Om Sin te maak uit Boosheid en Lyding.

Deur: Justin Angelos | Februarie 5, 2023

Was u al ooit in die situasie waar u probeer het om sin te maak uit boosheid en lyding? In ons almal se lewe sal daar soms pyn en lyding wees, asook natuurlike of geestelike boosheid.

En dan ontstaan die vrae natuurlik; Waarom? Waarom ek? Waarom laat God dit toe? Hierdie vrae raak soms ‘n groot struikelblok vir mense en is selfs die rede dat van hulle ateïste word.

In werklikheid gebruik ateïste boosheid en lyding as wapens om die Christendom te diskrediteer en te beweer dat daar geen God is nie. “Hoe kan ‘n liefdevolle God onskuldige mense laat ly?”, is die tipe vraag wat hulle na gelowiges se kant toe gooi.

Om Sin maak van die Oorsprong van natuurlike of geestelike boosheid.

Genesis 3 gee ons die oorsprong van boosheid en lyding:

  1. “Nou, die slang was listiger as al die lewende wesens van die veld wat God gemaak het en hy sê vir die vrou “Het God werklik gesê dat julle nie van al die bome in die tuin mag eet nie?” Die vrou antwoord die slang: “Van die vrugte van al die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middle van die tuin is, het God gesê: “Julle mag daarvan nie eet of dit aanraak nie, ander sal julle sterf”.” (Gen 3: 1-3-AFR 83).

Die slang saai twyfel in Eva se gedagtes deur God se Woord te verdraai en te sê “Jy sal sekerlik nie sterf nie, God weet dat jou oë sal oopgaan op die dag wat jy van die vrug eet en dat jy soos God sal wees en goedheid en boosheid sal herken”.

In Genesis 3:16 sê God vir die vrou: “Ek sal jou moeite en jou swangerskap baie groter maak, met pyn sal jy geboorte gee aan jou kinders en na jou man sal jou begeerte wees en hy sal oor jou heers.”

In Genesis 3:17 sê God vir Adam “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan maak, jou lewe lank.” As gevolg van Adam se sonde het God die aarde vervloek en Sy seen oor die aarde verwyder.

Die probleem van boosheid en lyding is nie net ‘n vraag vir Christene nie, maar ook vir elke ander wêreldbeskouing. Iemand het eenkeer gesê: “Ateïsme verwyder nie die pyn nie, dit verwyder net die hoop. ” Filosowe kon nog nooit bewys dat ‘n magtige, liefdevolle God en die bestaan van die bose logies teenstrydig is nie, aangesien dit nie onderling uitsluitend is soos ‘n getroude bachelor of ‘n vierkantige sirkel nie. Die doel van hierdie artikel is nie om die logiese of filosofiese probleem van die bose op te los nie, maar hopelik, ‘n bietjie lig te werp op die redes waarom God soms boosheid en lyding mag toelaat.

 

 

Om sin maak van die Definisie van boosheid

Eerstens is boosheid opsigself nie iets nie maar ‘n gebrek aan iets nl. goedheid. Goed en kwaad is nie verhoudings eienskappe nie. Ons kan goed wees sonder boosheid maar ons kan nie boosheid hê sonder goed nie. Dink aan boosheid as ‘n blinknuwe BMW sport model met ‘n afslaankap en ‘n V6-enjin. Dink nou aan dieselfde motor met roes daarop.

Jy kan ‘n BMW hê sonder roes, maar nie roes sonder die motor nie. Boosheid is dus ‘n bedorwing van dit wat goed is. Die bestaan van boosheid bewys nie dat God nie bestaan nie en daar moet dus ander redes wees waarom God boosheid en lyding toelaat.

Is alle Lyding Sleg?

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat nie alle lyding ‘n slegte ding is nie. Daar is ‘n meisie gebore met ‘n seldsame siekte genaamd CIPA wat veroorsaak dat sy nie in staat is om enige fisiese pyn te voel nie, Selfs nie eers as sy in ‘n dik geroesde spyker trap nie. Aanvanklik sou mens kon dink dit is ‘n seen, maar dit is eintlik ‘n lewensbedreigende toestand. Haar moeder se daaglikse oggendgebed is, “ Liewe God, laat my dogtertjie tog net pyn voel. ” [2 ] Haar ma pleit dus by God om haar dogter dit te laat voel wat ons weer wens God uit ons lewens sal verwyder. In 2020 het ek met my galblaas in die noodkamer gelê en vir God gevra om asseblief die pyn te verwyder en hier is ‘n klein dogtertjie wie se ma vir God vra om vir haar pyn te gee.

Leibniz en Lennox oor Boosheid en Lyding

Gottfried Wilhelm Leibniz het gewonder wat die beste moontlike wêreld is wat God kon kies om te skep uit al die moontlikes wat Hy kon geskep het of selfs glad nie. Sy gevolgtekking was dat die beste moontlike wêreld wat God kon geskep het, een is waarin vrye wil bestaan, en waar vrylik gekies en verwerp kon word. In enige wêreld waarin daar geen vrye wil is nie, kan liefde nooit werklik bestaan nie  want liefde vereis vryheid. Geen man kan ‘n vrou dwing om op hom verlief te raak nie, sy moet vrylik daaroor besluit. Indien iemand kies om God lief te hê en te aanbid, word dit vrylik gedoen uit opregte liefde vir God. Dit sou nie moontlik wees in ‘n wêreld waar die mensdom voorgeskryf word nie.

Dr. John Lennox verduidelik dit so, “Kon God ‘n wêreld skep  sonder lyding? Ja, hy kon, maar ek en jy sou nie daarin kon leef nie, want dit sou die wêreld ontneem van iets wat kosbaar is vir ons menslikheid – die vermoë om lief te hê. En ons vermoë om lief te hê, hang af van ons vermoë om te kies”.

Om sin te maak van Boosheid en Lyding deur die Kruis.

Die uniekheid van die Christendom – en die hart van die evangelie boodskap – is die Kruis. God self het onbegryplike boosheid en lyding aan die kruis ervaar en was dus nie verwyder van ons eie menslike lyding nie. Die Christendom bied jou ‘n Verlosser, ‘n persoonlike God wat in ons wêreld gebloei en gely het. Die grrotste bewys dat God waarlik omgee vir ons leiding is dat die Here self gely het, opgestaan het uit die dood, sonde en dood verower en ons die ewige lewe en die skoonheid en die vreugde wat wag belowe. Ons lyding word irrelevant wanneer ons in die teenwoordigheid van God verkeer. Ons sal miskien nooit heeltemal verstaan hoekom God lyding toelaat nie, maar daar is ‘n Verlosser wat in ons wêreld gely het, ‘n Verlosser wat regtig omgee vir ons lyding, en ‘n Verlosser wat ons pyn regtig verstaan.

“But he was pierced for our transgressions; he was crushed for our iniquities; upon him was the chastisement that brought us peace, and with his wounds we are healed.” (Isaiah 53:5 ESV)

“Vir ons oortredings is Hy deurboor, vir ons sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom” Jesaja 53:5 (Afr 83)

Voorgestelde bron om meer te lees oor lyding en boosheid: Clay Jones, Why Does God Allow Evil?

Oor die Skrywer

Seattle – Justin Angelos het ‘n passie vir evangelisasie en dissipelskap tesame met teologie en apologetika. Hy het studeer aan die Biola en Liberty Universiteite en sy fokus is om diegene te help wat ly aan emosionele en angs probleme. Hy woon tans in Salt Lake City, Utah.